Suid-Afrika se gunstelingvonkelwyn, spesialiskase, “voedsel met integriteit”, Konsortium Merino-lamsvleis, sagtevrugte, dubbelgoue-Veritas-wyne, asook SA se Standard Bank Chenin Blanc Top 10- en ander bekroonde wyne is van die interessante proe-ervarings wat op fynproewers wag tydens die vyfde jaarlikse Agri-Expo Landbouproe-reeks by die Toyota US Woordfees van Vrydag 6 Maart tot Sondag 15 Maart 2020 op Stellenbosch.
Dié reeks vervat vanjaar agt pas-en-proe-sessies met bekende kos- en wynkenners:
Vrydag 6 Maart (12:00): Proe Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Challenge wenners
Suid-Afrika het meer chenin blanc-wingerde as enige ander land ter wêreld. Proe van die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Challenge-wenners en vind uit hoekom hierdie veelsydige variëteit se gewildheid wêreldwyd toeneem.
Saterdag 7 Maart (12:00): Konsortium Merino en Veritas-wyne – watertandlekker!
Min dinge is so eie ons erfenis as ’n skaaptjoppie. Kom proe sappige Konsortium Merino-lamsvleis gekielie oor die kole, voorgesit met dubbelgoue en goue Veritas-bekroonde rooiwyne, aangebied deur Kaapse Wynmeester Bennie Howard. Kom proe die Konsortium-span se vleis en ervaar hul passie oor dié skaap wat met toewyding en trots in die wye, oop vlaktes van die Karoo geteel word.
Sondag 8 Maart (12:30): ‘n Viering saam met SA se gunstelingvonkelwyn, J.C. Le Roux
Agter elke bottel J.C. Le Roux lê ‘n verhaal van innovasie en passie – van ‘n nederige begin van ‘n Franse Hugenoot in die vroeë 1700’s tot die eerste en enigste toegewyde vonkelwynkelder in Suid-Afrika. Kom geniet J.C. Le Roux se wye verskeidenheid kreatiewe variëteite, van roemryke oesjaarreserwes tot gesellige gunstelinge; van delikaat droog tot heerlik soet!
Woensdag 11 Maart (12:00): Fairview-proe saam met Charles Back
Charles Back, derdegenerasie-eienaar van die bekende wyn- en kaaslandgoed, Fairview, is bekend daarvoor dat hy dinge anders doen, soos die “invoer” van Mediterreense wyndruifsoorte na die Kaap, en die skep van meer as 50 verskillende koei- en bokmelk-boetiekkase. Geniet ’n informatiewe proe en ontdek die kuns om waarde toe te voeg tot ’n wynreeks met gehalte-landbouprodukte.
Donderdag 12 Maart (12:00): Die invloed van terroir op pinotage
Die “terroir” (grond, klimaat, ligging en topografie) waarin ’n wyn verbou word, het ’n groot invloed op die uiteindelike wyn. Kom luister wat kundiges oor die sleutelrol van terroir te sê het en proe Cape Vintners Classification (CVC) geakkrediteerde Pinotagewyne van Durbanville, Stellenbosch en Botrivier.
Vrydag 13 Maart (12:00): HORTGRO Sagtevrugtefynproe
Op 17 April 1662 is die eerste appels in die Kompanjiestuin aan die Kaap gepluk. En in 1892 is die eerste Suid-Afrikaanse perskes op Covent Garden-mark in Londen verkoop. Leer meer oor die geskiedenis van vrugte en die wetenskap van vrugteboerdery by appelkenners, Buks Nel en Henk Griessel van Tru-Cape, en kom proe smake waarvan jy nog nooit gehoor het nie.
Saterdag 14 Maart (13:15): Voedsel met integriteit
Kom geniet ‘n proe van Langside Meats se droogverouderde vleis met garnering uit die tuin van tuiskok Marietha Prinsloo. Leer meer tydens ‘n paneelbespreking deur PW Prinsloo, boervrou en deli-eienaar Marelize van Niekerk, die voorsitter van die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika (GFASA) Adriaan Cloete en James Blignaut van Integra Trust/Kos met Integriteit.
Sondag 15 Maart (12:00): Proe die uitnemende wyne van Spier
Spier is vanjaar bekroon met nege dubbelgoue en sewe goue Veritas-medaljes – die beste prestasie sedert die ontstaan van dié toekennings. Dít wil gedoen wees met ‘n paneel van vyf vooraanstaande internasionale en 95 plaaslike spesialiste wat 1 491 medalje-aanspraakmakers beoordeel! Kom proe ses van Spier se dubbelgoue en gouemedalje-wenwyne saam met keldermeester Frans Smit.
Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte, sê dat Agri-Expo die beeld van landbou op opwindende maniere bevorder. “Hierdie inisiatief by die Toyota US Woordfees, in samewerking met ons vennote die Chenin Blanc Assosiasie en Standard Bank, Konsortium Merino en Veritas, JC Le Roux, Fairview, Cape Vintners Classification, HORTGRO, die Veldvleisvereniging van SA (GFASA) en Spier Wines, skep ‘n toeganklike en vermaaklike platform om landbou aan ‘n wyer gehoor bekend te stel. Landbou is ‘n vertoonvenster van kreatiewe kunsvorme, daarom is dit gepas dat Agri-Expo ander kunsvorme en landbou bymekaar uitbring tydens die Toyota US Woordfees.”
Al die proe-sessies vind by Die Khaya in Ryneveldstraat, Stellenbosch plaas. Kaartjies wissel tussen R130 en R180. Slegs 70 kaartjies per proe-sessie is by Computicket beskikbaar. Besoek www.woordfees.co.za vir meer inligting.