Agri-Expo Landbouproe-reeks: Ontdek proe-proe waar jou kos vandaan kom by US Woordfees

Mar 1, 2019

Skaapvleis vanuit die Hardemanskaroo tot die Kamdeboo, Qualité-kase, veldgrasvleis en wildsvleis asook Suid-Afrika se Top 10 Sauvignon Blanc- en ander bekroonde wyne is van die interessante proe-ervarings wat op fynproewers wag tydens die vierde jaarlikse Agri-Expo Landbouproe-reeks by die US Woordfees van Vrydag 1 tot Sondag 10 Maart 2019 op Stellenbosch. Dié gewilde reeks bestaan vanjaar uit nege pas-en-proe-sessies met bekende kos- en wynpersoonlikhede. Al die proe-sessies vind van 12:00 tot 12:45 by Die Khaya in Ryneveldstraat, Stellenbosch, plaas.

Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, sê dat hulle as landbougenootskap die beeld van landbou op opwindende maniere bevorder. “Hierdie inisiatief by die US Woordfees, in samewerking met ons vennote die Sauvignon Blanc Belangegroep, Skaapvleis SA, Merino SA, Shiraz SA, Fairview, CVC, Konsortium Merino, Veritas en die Veldvleisvereniging skep ‘n toeganklike en vermaaklike platform om kennis oor die oorsprong van landbouprodukte te bevorder.”

Agri-expo landbouproe-reeks Skaapbraai

Vrydag 1 Maart: Merino-lamsboudproe

Sjef Bertus Basson bied weer die gewilde proe van Merino-lambsboud uit verskillende streke in samewerking met Merino SA aan. Die vleis is van Merino-lam wat telkens ewe oud is, ewe lank verouder en op dieselfde wyse gaargemaak is, met geen geurmiddels nie. Gaste kan dus die smaak en geure van die verskillende streke proe en self besluit watter streek se lam die beste smaak. Die bekende Kaapse Wynmeester en Veritas vise-voorsitter, Bennie Howard, sal Veritas-bekroonde rooi wyne as pasmaats skink.

Saterdag 2 en 9 Maart: Shiraz en wildsvleis

Kom ervaar hoekom Suid-Afrikaanse Shiraz-wyne as van die beste pasmaats vir wildsnitte beskou word. Edmund Terblanche, voorsitter van Shiraz Suid-Afrika, asook keldermeester en bekroonde wynmaker van La Motte-wynlandgoed, kom deel sy kennis terwyl sjef Bertus Basson verskillende wildsnitte – sonder enige tierlantyntjies soos konfyte, souse of speserye – voorsit.

Sondag 3 Maart: Ontdek die oorsprong van jou kos

Wat is die storie agter die kos wat jy elke dag eet? Kom leer proe-proe saam met die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika hoe die verskillende maniere waarop ons kos produseer en verwerk unieke smake teweegbring. Sjef Bertus Basson plaas konvensionele lendesnit of kruisskyf sowel as veldgrasvleis onder die vergrootglas. Kenners gesels so tussen die proe deur oor hoekom ‘naspeurbaar’ die nuwe gonswoord is.

Dinsdag 5 Maart: Wit & rooi:  Versnitte eie aan die Kaap

‘n Nuwe proe-ervaring in samewerking met Cape Vintner Classification (CVC) wat eiesoortige terreinspesifieke Kaapse ikoonwyne bevorder. Franse Bordeaux wit- en rooiwyne is meestal versnitte van verskillende kultivars wat mekaar komplementeer – kom ervaar eerstemonds saam met wynmakers van Kanonkop en Vergelegen hoe hierdie beginsel op eie bodem toegepas word.

Woensdag 6 Maart: Proe Top 10 Sauvignon Blanc-wyne en Qualité-kase

Net 13 uit 563 Suid-Afrikaanse kase het in 2018 die Qualité merk van gehalte by Agri-Expo se Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe ontvang … dit is soos die Oscars, net met ‘n bietjie meer kultuur! RJ Botha, voorsitter van die Sauvignon Blanc Belangegroep, pas-en-proe van hierdie wenkase met ‘n paar van die toppresteerders by die 2018 Sauvignon Blanc Top 10-kompetisie.

Donderdag 7 Maart: Konsortium Merino hou lamsproe

‘n Unieke proe van Konsortium-Merino, bekend vir hul aanpasbaarheid ván die Hoëveld tot in die Swartland, die Overberg, die Karoo én die Oos-Kaap. Fynproewers kan lamsboude uit vyf verskillende streke saam met Veritas-bekroonde rooiwyne proe. Die lamsvleis is ewe lank verouder en word deur sjef Bertus Basson op dieselfde wyse gaargemaak, met geen geurmiddels nie.

Vrydag 8 Maart: Kaas- en wynproe

Charles Back, derdegenerasie-eienaar van die bekende wyn- en kaaslandgoed, Fairview, in die Paarl, bied ‘n proe van innoverende kaas- en wynstyle aan. Charles is bekend daarvoor dat hy dinge anders doen, soos die “invoer” van Mediterreense wyndruifsoorte soos Viognier, Tempranillo, Sangiovese en Petite Sirah na die Kaap, en die ontwikkeling van meer as 50 koei- en bokmelk-boetiekkase. Verwag vermaaklike stories oor sy reis van jong wyn- en kaasmaker tot veelbekroonde ikoon!

Sondag 10 Maart: Sondag-skaapbraai met Gordon Wright

Dis nie elke dag dat die Koning van die Karoo, Gordon Wright, saam aansit vir Sondagmiddagete nie! Kom geniet skaapvleis vanuit die Overberg, die Hardemanskaroo en die Kamdeboo, aangebied in samewerking met Skaapvleis SA. Wright, skrywer van die topverkopers “Veld to Fork” en “Karoo Food”, sal gesels oor hoe Suid-Afrikaanse skaapvleis deel vorm van die internasionale “Slow Food”-beweging en inderwaarheid ‘n nasionale skat geword het.

Kaartjies wissel tussen R110 en R160. ‘n Beperkte getal kaartjies is by Computicket beskikbaar. Besoek www.woordfees.co.za en www.agriexpo.co.za vir meer inligting.

Share This